Vyf maniere waarop nuwe besigheidseienaars stres kan beheer 

Enigiemand wat al sy of haar eie besigheid begin het, kan met sekerheid daarvan getuig dat dit nou maar eenmaal ’n gegewe is dat stres ’n beduidende rol speel – veral tydens die eerste drie tot vyf jaar, wanneer die besigheid nog sy voete vind en onder finansiële druk gebuk gaan, kliënte of klante werf, prosesse neerlê, die personeel lang ure werk, asook algehele onsekerheid oor of die opofferinge vrugte gaan afwerp.

Hoewel stres ’n uiters positiewe uitwerking kan hê in die opsig dat dit as ’n doeltreffende dryfkragmeganisme dien, kan dit net so maklik hand uitruk indien dit nie goed bestuur en beheer word nie.

Indien jy reeds jou planne agtermekaar het en op die lang, opdraande pad na entrepreneuriese sukses is, sal jy daarby baat om te erken dat stres onvermydelik is. Jy kan dit egter verminder, en beheer, deur die volgende vyf wenke toe te pas.

Hou tred van die besigheid se interne prosesse en reëls

Onthou dat ’n besigheid se groei nie slegs aan sy bankbalans en markdeel gemeet word nie. Iets wat baie nuwe besigheidseienaars nie vooraf besef nie, is dat hulle deurlopend in gedagte moet hou dat interne prosesse en reëls verander soos nuwe uitdagings opduik.

Ten einde seker te maak almal is op hoogte – en om daarmee miskommunikasie uit te skakel – maak seker dat jy en al jou werknemers minstens een keer ’n week vergader om te verseker dat niemand in die duister is nie. Ja, dit verg inspanning. Maar dis baie beter as om elke dag te stres oor wanneer die volgende ding gaan skeefloop.

Maak seker verantwoordelikhede en take is duidelik uiteengesit

Dit hou verband met die vorige punt. Soos jou besigheid se prosesse gladder verloop, gaan jy in alle waarskynlikheid meer besigheid van buite kan werf, en dit gaan beteken dat jy jou eie werksmag moet groei.

Om seker te maak dinge verloop so glad moontlik – en daar gaan beslis konflik hieroor opduik – maak seker pligte en verantwoordelikhede word duidelik uiteengelê en oorgedra. As jy dit nie doen nie, gaan jy heeltyd stres oor of almal besig is met wat van hulle verwag word, en dan gaan jou eie werksvermoë daaronder ly.

Moenie wrokke koester of kwaad gaan slaap nie

Ja, jy gaan jou ongetwyfeld vervies aan die begin. Vir moeilike kliënte, werkers wat foute begaan, jou bankbestuurder, jou vennote, jou lewensmaat. Maar maak seker dat dit jou nie vreet nie, want anders gaan jy uitbrand. Daar is niks erger as emosionele stres nie, en jy behoort altyd te onthou dat jy jou besigheid begin het met die doel om onder meer ’n beter toekoms vir jouself en jou naastes te verseker.

Meditasie, joga, oefening, ’n gesonde dieet, beperkte tegnologie, kry genoeg rus …

Alle stresverwante artikels is geskoei op bostaande, maar dit kan nie hier uitgelaat word nie. As jy oor genoeg logika beskik om ’n besigheid te bestuur, behoort dit vir jou sin te maak dat dit belangrik is om ’n gebalanseerde lewenstyl te handhaaf soveel soos jy kan.

Moenie te veel koffie drink nie, skakel suiker uit, ignoreer jou e-posse by die huis, slaap minstens sewe ure ’n aand (wanneer jy kan), maak tyd om te ontspan en doen soveel oefening soos jy voor kans sien. Jy het in die eerste plek ’n besigheid om beter lewensgehalte vir jouself te verseker, of hoe?

Speel wat voor jou is

Dit wil sê, moenie onrealistiese doelwitte stel nie. Dis dwaas om te dink dat indien jou besigheid nie oornag ’n sukses is nie, daar fout is. Meeste nuwe besighede vou binne die eerste ses maande. Die meeste besighede wat die lig aan die einde van die tonnel sien, hou vir die eerste paar jaar net-net kop bo water.

Indien jy nie insolvent verklaar is nie en elke dag ’n bietjie nader aan die beloofde land beweeg, is jy op die regte pad. Moenie so hoog mik dat dit jou uitstres pleks van motiveer nie.