Vlak 3-regulasies en jou huishulp

Suid-Afrika het op 1 Junie vanjaar na vlak 3-inperking beweeg. Die skuif was deur die meerderheid Suid-Afrikaners verwelkom en behels die verslapping van sommige streng reëls en regulasies om die verspreiding van die koronavirus te beperk.

Vlak 3-regulasies maak geen spesifieke vermelding van huis- en tuinwerkers en soortgelyke diensverskaffers nie. Ebrahim Patel, Minister van Handel en Nywerheid, het egter aangedui dat dié werkers wel mag terugkeer, mits daar aan streng gesondheidsregulasies voldoen word.

Thulas Nxesi, Minister van Indiensneming en Arbeid, het op 4 Junie 2020 die riglyne in verband met die nodige gesondheidsmaatreëls gepubliseer. Dié riglyne is ook van toepassing op werkgewers wat werkers in privaat huishoudings in diens neem en vereis dat werkgewers wat minder as 10 werkers in diens neem –

  • ’n werkplekplan in plek moet stel;
  • die werkplek só moet inrig dat alle werkstasies ten minste 1,5 meter uitmekaar is;
  • werknemers wat enige simptome toon nie mag toelaat om te werk nie (die werkgewer moet ook die COVID-19-blitslyn vir verdere instruksies kontak – 0800 02 9999);
  • werknemers van gesigsmaskers moet voorsien of vereis dat werkers soortgelyke beskerming dra wat hul monde en neuse bedek;
  • moet verseker dat alle werknemers gereeld hul hande met seep en water was en van handreinigers gebruik maak; en
  • werkstasies gereeld moet ontsmet.

Dit is belangrik om daarop te let dat werkgewers in privaat huishoudings nie van enige vereistes kwytgeskeld word nie; hulle moet dus verseker dat hulle ’n werkplekplan in werking stel. Ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid 85 van 1993 kan jy strafregtelik aangekla word as jy nie dié regulasies nakom nie en ’n boete van tot R100 000 of tronkstraf van maksimum twee jaar, of albei opgelê word.

Werkgewers word ook verplig om die gevare en COVID-19-voorkomingsmetodes aan hul werknemers te verduidelik.

Regulasie 46(5) plaas veral streng vereistes op alle werkgewers en bepaal dat spesiale maatreëls getref moet word om die terugkeer na die werksplek te vergemaklik vir mense wat ouer as 60 is en wat aan sekere siektetoestande ly. Hul veiligheid moet te alle tye in ag geneem word. Wetgewing swyg egter oor wat dié spesiale maatreëls behels.

Die regulasies bepaal ook dat werknemers ’n reispermit slegs benodig as hulle oor provinsiale grense moet reis om werk toe te gaan. Werkgewers kan dié permit in Aanhangsel A (Vorm 2) van die regulasies kry.

Kontak ons gerus vir verdere hulp in dié opsig.