Toppresteerders – dít is wat hulle elke oggend doen 

Oggendmense is suksesvolle mense. Vra enige uitvoerende hoof, professionele atleet of suksesvolle belegger: ’n Ekstra uur of twee in die oggend bepaal jou fokus vir die res van die dag. Jou wilskrag is die sterkste in die oggend, daarom maak oggende saak! Dit is tyd om jou alarm vroeër te stel en almal anders een voor te wees sodra die dag begin.

So wat doen toppresteerders elke oggend? Behalwe vroeg opstaan (wat jou volgens navorsing meer optimisties maak), maak suksesvolle entrepreneurs ook seker hulle eet reg, begin beweeg, berei voor vir die dag en maak tyd om stil te raak.

Raak stil

Almal haat die gejaag elke oggend om klaar te maak en betyds te wees. Nie net is dit beter om jou oggend kalmer te begin nie, maar ook om ’n oomblik te neem om alleen te wees met jou gedagtes. Kenners soos Dr. Andrew Weil reken dat asemhalingsoefeninge jou kan kalmeer, energie gee wanneer jy dit benodig en help met stresverwante gesondheidsprobleme, soos paniekaanvalle en ’n gebrek aan spysvertering.

Alhoewel daar verskeie maklike asemhalingstegnieke is, kan jy die 4-7-8 asemhalingstegniek probeer vir ’n kalmerende uitwerking. Asem deur jou mond uit, maak jou mond toe en asem vir vier sekondes deur jou neus in. Hou jou asem vir sewe tellings op en asem dan vir agt sekondes deur jou mond uit. Doen dit vier keer en jy sal reeds kalmer voel!

Behalwe om alleen met jou gedagtes te wees, is oggende ook die ideale tyd vir Bybelstudie. Stiltetyd skep die lens waardeur jy jou dag gaan ervaar en vernuwe jou denke.

Beweeg

Binne die eerste uur van jou dag moet jy begin beweeg om jou liggaam vol energie te ‘pomp’. Dit is moeiliker om soggens verskonings te maak as smiddags, so oefen wanneer jou wilskrag die sterkste is! As jy nie tyd het om 45 minute tot ’n uur by die gimnasium te spandeer nie, probeer selfs net 5 minute draf of gebruik een van die talle beskikbare toepassings (soos Hot5Fitness) om jou oefenroetine binne 15 minute af te handel.

Voed jou liggaam

Suksesvolle mense ken hul eie liggame. Hul behoefte is só groot om doeltreffend te wees dat hulle nie kan bekostig om lae energievlakke te hê nie. Dit is jou keuse hoe jy met jou ontbyt wil omgaan, solank jy dit doelbewus doen. Die geheim is om te weet wat jou liggaam nodig het. Daar is natuurlik talle argumente vir en teen ontbyt of watter ontbyte die beste is en hoeveel keer per dag jy moet eet. Begin egter oplet of die laat koppie koffie jou die volgende oggend moeg laat voel, wat met jou energievlakke gebeur as jy koolhidrate en suiker uitsny of hoe jy voel wanneer jy gereelde klein porsies eet teenoor net ’n laat middagete en aandete.

Gee jou liggaam die geleentheid om te dikteer wat jy inneem en wat jou blywende energie gee, en jy sal al hoe meer bewus raak van hoe jy jou liggaam moet voed om ’n doeltreffende dag te hê!

Prioritiseer

Hoe besiger jy raak, hoe belangriker is dit om stil te staan en eers te beplan. Entrepreneurs doen dikwels die teenoorgestelde; hoe meer vure daar is om dood te slaan, hoe minder word daar geprioritiseer. Die oggende gee jou geleentheid om vas te stel wat die belangrikste take is om af te handel. Suksesvolle mense is dié wat hul dag rondom hul doelwitte bepaal en nie toelaat dat die dag hul doelwitte bepaal nie. Besluit dus wat jou belangrikste drie take vir die dag is nog voordat jy by die kantoor instap.

Noudat jy jou take geprioritiseer het, kan jy dadelik wegspring om die druk te verlig. As jy opsien na ’n oproep wat jy moet maak, ’n verslag aanmekaar moet slaan of moet voorberei vir ’n belangrike vergadering – gebruik jou oggend om dit van jou lysie af te merk. Dit gaan jou onmiddellik laat beter voel oor die res van jou dag. Dit is ’n vroeë oorwinning en selfs al moet jy die res van die dag vure doodslaan, gaan jy voel die dag was ’n sukses.

Om suksesvol te wees, moet jy doen wat suksesvolle mense doen. En, ja, dit is maklik, maar dit is ook maklik om dit nié te doen nie. ’n Goeie oggend is egter net die begin. Toppresteerders leer en lees konstant, hulle vereenvoudig hul lewens en fisiese omgewings en beskerm ook hul tyd met hul geliefdes. Maar selfs toppresteerders het ’n doeltreffende oggend nodig om hulle gerat te kry vir sukses!