Slegte gewoontes en hoe om hulle te vervang met goeies 

Waarom byt ons ons naels, kyk kort-kort na e-posse of bring ure op Facebook en Instagram deur? Waarom stap jy elke keer yskas toe selfs al is jy nie werklik honger nie of lê jy en Netflix kyk terwyl jy aan jou nuwe besigheidsidee moet werk? Boonop weet ons dat dit ons fisiese en verstandelike gesondheid benadeel, ons energie verminder en ons onproduktief maak.

Die antwoord – stres en verveeldheid. Wanneer ons stres en wanneer ons verveeld is, skep ons ’n roetine of ’n gewoontesirkel wat ons vasvang in ’n sekere gedrag. Wilskrag is ongelukkig nie al wat nodig is om gewoontes permanent te verander nie, omrede ons slegste gewoontes juis die oorhand kry wanneer ons moeg is en ons wilskrag min is. Marina Chaparro sê wilskrag werk soos ’n spier wat uitgeput kan word, maar die goeie nuus is dat wilskrag ook weer opgebou kan word deur byvoorbeeld te gaan stap of na musiek te luister.

’n Makliker roete as om op ons wilskrag staat te maak, is om ’n negatiewe kringloop met ’n positiewe een te vervang. Elke gewoonte wat ons beoefen, het ’n struktuur wat bestaan uit ’n skakelaar wat die proses begin, ’n roetine en ’n beloning. Wanneer jy by die huis kom na ’n lang dag en uitgeput is (die skakelaar), stap jy stadig na die lekkergoedkas toe (die roetine) en jy maak die pak malvalekkers oop en jy word deur die soet smaak van suiker beloon (die beloning). Of dit nou rook, drank, suiker, sosiale media of televisie is – jy kan die volgende stappe doen om die struktuur van jou gewoontes te verander:

Identifiseer die fases

Dink aan die slegte gewoonte wat jy wil aanpas en identifiseer eerstens die skakelaar wat die proses aan die gang sit. Is dit wanneer jy moeg is of saam met sekere mense is, rook jy wanneer jy drink of eet jy ongesond wanneer jy nie geoefen het nie? Tweedens, wat is die roetine wat direk daarna volg? Gaan sit jy op die bank net na jy by die huis gekom het of stap jy yskas toe? Derdens, wat is die beloning wat jy kry, is dit om jou gedagtes van die stres af te kry? Of wat is dit wat jy deur hierdie gedrag najaag? Ons moet besef dat ons gewoontes ons op ’n manier dien, dat ons so ingestel is dat daar iets is wat ons in ruil daarvoor kry wat ’n groter waarde het as ander gewoontes. As jy ongesond eet en nie oefen nie, beteken dit dat die interne waarde wat jy aan gemak en die beloning van vetterige voedsel heg, hoër geag word as vroeg opstaan om te gaan oefen.

Sodra ons weet hoe die struktuur van ons gewoontes werk, kan ons makliker alternatiewe begin oorweeg.

Kies ’n plaasvervanger

Kies ’n gewoonte waarmee jy jou slegte gewoonte kan vervang. Dalk wil jy steeds dieselfde beloning hê, byvoorbeeld om te ontspan, maar in plaas van Netflix te kyk wil jy eerder saam met jou wederhelfte gaan stap.

Verwyder of skep skakelaars

As jy ’n nuwe gewoonte in gedagte het, dink aan watter skakelaars jy moet vermy (of skep) wat jou van die vorige gedrag sal wegstoot en die nuwe gedrag sal aanspoor. As jy gestres is wanneer jy by die huis kom, kan jy dalk op pad terug huis toe eerder klassieke musiek in jou motor luister. As jy ongesond eet wanneer jy nie oefen nie, kry ’n manier om oefening in jou skedule in te werk. As jy Facebook omdat jy verveeld is, besluit om elke keer ’n boek te gryp as dit weer gebeur, selfs al lees jy net een bladsy. Doen ’n asemhalingsoefening wanneer jy die begeerte kry om te rook, haal die batterye uit die afstandsbeheerder uit of sluit die kas met die lekkernye. Doen wat jy kan om slegte gewoontes meer moeite te maak en skep skakelaars vir goeies.

Jy kan dalk na ’n week agterkom dat joga nie vir jou werk nie, of dat om jou selfoon af te sit selfs meer stres veroorsaak. Maar dit is belangrik om aan te hou eksperimenteer. Let op na wanneer jy gemotiveerd voel en wat dit veroorsaak.

Jy sal verbaas wees oor hoe positiewe gewoontes in een deel van jou lewe ook gewoontes in ander dele van jou lewe beïnvloed. Onthou, verstaan die struktuur, kies ’n nuwe gewoonte en vervang al die negatiewe skakelaars met positiewes – en siedaar, jy het jou slegte gewoonte gebreek!