Ses maniere om nóú kop bo water te hou 

Almal voel die invloed van die COVID-19-virus op die ekonomie. Dit is tyd om alles in jou mag te doen om te verseker dat jy en jou besigheid kop bo water hou. Elke aksieplan vir krisisbestuur se eerste stap is om kalm te bly. Dit beteken nie dat jy nie dringend en drasties optree nie, maar eerder dat jy jou ingesteldheid bestuur. Jy kan veel beter aan kreatiewe oplossings dink as jou ingesteldheid positief is en jy nie deur openbare menings in ’n krisistyd meegesleur word nie.

Hier is ses praktiese stappe waarmee jy kan wegspring om jou besigheid en persoonlike inkomste te beskerm.

Stel ’n begroting op – weet waarvoor jy jouself inlaat

As jy werknemers het wat afhanklik is van jou, is jou eerste prioriteit om hulle inkomste te verseker. Beantwoord die volgende paar vrae vir jouself:

  • Wat is my totale persoonlike en besigheid se spaarfondse?
  • Wat is die totale salarisuitgawe wat ek per maand moet betaal?
  • Wat is my totale uitgawes per maand as my besigheid nie operasioneel is nie? (Dit sluit byvoorbeeld huur, internet, versekering en so meer in.)
  • As ek my besigheid se salarisrekening en operasionele uitgawes in ag neem, hoeveel maande kan ek oorleef indien ek nie inkomste genereer nie?

Die antwoord tot die laaste vraag stel jou in staat om te besluit watter ander dringende aksiestappe jy sal moet neem.

Beperk jou uitgawes

Dit is nou tyd om uitgawes te sny – nie net in jou besigheid nie, maar ook persoonlik. Kanselleer onmiddellik enige uitgawes waarsonder jy kan klaarkom. Bestee geld slegs aan dit waarsonder jy nie kan klaarkom nie. Moenie onnodig rondry, uiteet of hoërisiko-bemaringsuitgawes aangaan nie.

Kyk uit vir geleenthede

In moeilike ekonomiese tye is daar net so veel geleenthede as uitdagings. Meer mense maak meer geld uit aandele tydens finansiële rampe vergeleke met enige ander tyd. As jy spaargeld in aandele het, moenie dit onttrek nie. As jy wel jou uitgawes kan dek, kan jy selfs oorweeg om meer aandele teen afslagpryse te koop.

  • Is daar ’n teikenmark wat jy weens jou konkurrente nie voorheen kon bereik nie?
  • Is daar kliënte wat van invoere afhanklik is en wie jy nou kan bedien?
  • Is daar moontlike inkomstestrome wat jy voorheen ignoreer het, maar waaraan jy nou kan tyd bestee?
  • Kan jy in ’n krisis aan jou kliënte wys dat jy omgee?

Fokus op die toekoms

Dit is belangrik dat jy en jou werknemers op ’n toekoms bly fokus waarin die besigheid weer finansieel gesond is. Talle studies dui daarop dat daar ’n duidelike verband bestaan tussen visualisering en ’n vermoë om drome ’n waarheid te maak. Hoe meer realisties die gewenste toekoms vir jou is, hoe makliker sal jy maniere vind om dit te bewaarheid. Oggendmeditasie – wat minstens vyf minute van asemhalingsoefeninge behels – kan jou ook help om jou instelling reg te ruk.

  • Wat kan ek reeds uit my huidige omstandighede leer?
  • Hoe hoop ek lyk my besigheid oor ses maande?

Kry toegang tot kontantvloei

As jou begroting nie klop nie en jou spaargeld is min, is dit onmiddellik tyd om vir jouself moontlikhede vir goeie kontantvloei te skep. Dit beteken om dadelik met jou verhuurder vir ’n uitgestelde betaaldatum te onderhandel. Jy kan ook met jou verskaffers ’n nuwe betaalooreenkoms aangaan of solank voorsiening maak vir bykomende kapitaal deur by ’n vriend of familielid – wat heelwat spaargeld het – aan te klop. Tree eerder nou op as later. Dit is ook belangrik om nie nou skuld teen ’n hoë rentekoers aan te gaan nie: Dink verder as net jou kredietkaart.

  • Is daar ander besighede wat my moontlik kan ondersteun?
  • Kan ek my bank nader vir toegang tot kapitaal?
  • Het ek enige bates wat ek kan verkoop?

Geloof, hoop en liefde

Daar is talle maniere waarop ons ons finansies kan beskerm, uitgawes kan beperk, nuwe inkomstestrome kan skep en toegang tot kapitaal kan kry. Die belangrikste is egter om nie net op jouself te vertrou nie. As Christene word ons gewaarborg van beloftes wat hierdie wêreld te bowe gaan en kan ons steeds dag na dag dankbaar wees dat ons veilig in sy hand is. Tye van krisis is ook ’n goeie tyd om jou lig te laat skyn en ander besigheidseienaars te ondersteun waar jy kan. As jy self sukkel om kop bo water te hou, skep hoop vir iemand anders en jy sal self ook die vrugte daarvan pluk.