Mentorskap: Die reddingsboot vir klein besighede

Is entrepreneurs wat mentors het meer suksesvol as entrepreneurs wat nie het nie? Wel, volgens Sage erken 93% van klein -en medium besighede dat mentorskap hulle kan help om sukses te behaal. Maar in Suid-Afrika maak net sowat 34% van besighede gebruik daarvan. Dit teenoor lande soos Morocco en Tunisië waar meer as helfte van besighede staatmaak op mentorskapsverhoudinge.

Wat is Mentorskap?

Die sambreelnetwerk Mentorvennoot definieer mentorskap as die proses van informele oordrag van kennis, vaardighede en psigo-sosiale begrip van die kuns van besigheid deur persoonlike interaksie. ’n Mentor kan daarom ’n gekwalifiseerde besigheidskonsultant wees of bloot ’n persoon wat jy as ’n leier in jou spesialisgebied beskou. ’n Mentor is ’n klankbord, ’n tweede perspektief en ’n raadgewer.

Voordele van mentorskap

 In ’n onlangse meningspeiling het meer as 90% van uitvoerende beamptes in Amerika aangedui dat hulle gebruik maak van ’n mentor. Dit neem ook toe in Suid-Afrika. Of jy ’n kenner betaal of ’n goeie kennis nader om jou mentor te wees, kan jy die volgende vyf voordele verwag:

  1. ’n Groter netwerk

As jou mentor in jou sukses ingekoop het sal sy netwerk ook in jou inkoop. Jou mentor het sy eie netwerk van diensverskaffers, spesialiste, hulpbronne, mentore en beleggers – en dit opsigself gaan jou horisonne verbreed.

2. Vinniger oplossings

Entrepreneurs is geneig om in hulle eie perspektiewe vas te kyk. Met ’n vars oog op ou probleme en ’n reeks strikvrae, is jy dalk vinnig oppad na nuwe oplossings.

3. Doen ervaring op

Boeke-kennis maak nie op vir ervaring nie. Mentorskap is ’n geleentheid om uit jou mentor se foute te leer sodat jou pad na sukses nie onnodige afdraai paaie het nie.

4. Bly langer in besigheid

Sowat 30% van besighede oorleef nie die eerste 24 maande nie en 50% sien nooit eens vyf jaar nie. Maar UPS (die verpakking en verskepingsreus) sê dat hulle navorsing wys dat 70% van besighede wat mentorskap ontvang, die gevare wat die eerste vyf jaar inhou, oorleef.

5. Ontwikkel emosionele intelligensie

Hoe beter jy jouself leer ken en jou blindekolle begin raaksien, hoe beter sal jy jou sterkpunte kan toepas. ’n Mentor help jou om jou veronderstellings en oortuigings te bevraagteken.

Kies jou mentor só

 As jy die voordele uit só besigheidsverhouding wil put, moet jy seker wees om die regte mentor te kies. Waak daarteen om bloot die eerste persoon te kies wat by jou opkom. Vra jouself eers die volgende vrae af:

  • Wie het die uitdagings wat ek het reeds oorkom?
  • Watter persoon respekteer ek?
  • Soos wie wil ek werk en leef oor 10, 20 of 30 jaar?
  • Wie maak my opgewonde oor dit wat ek doen?
  • Wil ek weekliks, maandeliks of een maal per kwartaal my mentor raadpleeg?

Sodra jy antwoorde op hierdie vrae het sif dan deur jou lys en stippel jou behoeftes vir daardie persoon uit. Verduidelik waarom jy opsoek is na ’n mentor en waarom hulle die geskikte kandidaat sou wees.

Sit die wiel aan die rol en word deel van die lang lys suksesvolle mentorskapsverhoudinge. Plato en sy mentor Socrates, Warren Buffet en sy mentor Benjamin Graham, Alexander die Grootte en sy mentor Aristotle en Thomas Jefferson en George Wyth. As jy ’n reddingsboot kort – gryp hom!