Koop jou eie; koop plaaslik; koop Suid-Afrikaans: Ondersteun ‘n vriend se onderneming só

Deur Chanté Kelder-Jansen van Rensburg

’n Paar jaar gelede was dit ongewoon om iemand in jou onmiddellike omgewing te hoor sê dat hulle ’n eie onderneming het. Dit was vir baie ’n droom, maar vir weinig ’n werklikheid. In 2019 is dit egter nie meer die geval nie; nou bedryf bykans elkeen hul eie onderneming. Dié wat dit nie doen nie, verdien heel waarskynlik ’n byverdienste wat hulle ná werk of oor naweke aanpak. Geld is geld – en as jy iets kan doen waarvan jy hou en boonop nog ’n paar rand daaruit kan maak, waarom nie?

Dit bring ons by die volgende onderwerp: Hoe ondersteun ek ’n vriend, vriendin of familielid se ondernemings?

Vra is nié vry nié

Moenie vir jou vriend vra of jy iets verniet kan kry nie; ook nie om iets op krediet te koop nie. Dit plaas almal in ’n ongemaklike situasie, veral as die krediet nooit betaal word nie. Ons almal wil graag hê dat die mense vir wie ons lief is en omgee ’n sukses moet maak van dit wat hulle aanpak. Waarom is ons dan nie bereid om geld uit ons sakke te haal om hulle te ondersteun eerder as om te vra vir gratis goed nie? As jou vriend besluit om uit hul eie uit vir jou iets te gee – om te wys dat hulle jou waardeer of sommer maar net omdat hulle wou – is die aangewese ding om dit aanvaar, maar moenie van hulle verwag om vir jou gratis produkte of dienste te verskaf nie, want só help jy hul onderneming van die wal af in die sloot!

Vertel vir enigiemand wat lank genoeg stil staan

As jy van jou vriend se produkte hou, moenie die nuus vir jouself hou nie. Vertel mense daarvan en versprei die woord! As dit ‘n produk of diens is waarby jyself nie werklik baat nie, beteken dit allermins dat jy moet stilbly. As jy hoor iemand praat van iets soortgelyks, gee jou vriend se besonderhede. Wees jou vriend se grootste ondersteuner selfs al kan jy nie finansieel ’n bydrae maak nie.

Stel belang

Ons almal het ’n behoefte daaraan om erkenning te ontvang vir dit wat ons goed doen. Ons wil graag hoor hoe oulik ons is – en dit is presies dieselfde met eienaars van ondernemings. Luister wanneer jou vriend jou vertel van ’n nuwe idee, ’n mislukte idee, geleenthede wat oor hul pad gekom het, hoe hul besigheid in ’n paar maande of ’n paar jaar gegroei het. Gee hulle ‘n emosionele hupstoot as jy kan sien dat dit ’n moeilike week of maand was. As hulle opgewonde is, wees saam met hulle opgewonde. Jou ondersteuning beteken waarskynlik veel meer as enige negatiewe kommentaar wat oor hul pad mag kom.

Jy hoef nie elke keer as jou vriend ’n nuwe produk bekend stel eerste in die ry te wees om by hul te koop nie, maar wys jou ondersteuning so nou en dan deur jou eie beursie uit te haal. Mense koop gereeld iets by groot handelsmerke net omdat hulle dink dat hul vriende of familie se ondernemings in elk geval nie suksesvol gaan wees nie. Maak jou vriende se dag en ondersteun hul ondernemings.

*Hooffoto: Kimono – Besoek Kimono se Facebookblad en Instagram vir meer inligting oor hierdie items