AfriForum-Netwerk Blog

Gaan deur die nuutste artikels op ons blog.

Met die uitbreek van die koronavirus (wat COVID-19 veroorsaak) is baie werkgewers onkant gevang en verleë gelaat omdat hulle versuim het om hul werknemers by die werkloosheidversekeringsfonds te registreer.

Mense wat werknemers het om werk in hul privaat huishoudings te verrig, word nie van arbeidswetgewing kwyt gestel nie. Dié werkgewers moet hulself vergewis van hul verantwoordelikhede teenoor hul werkers.

Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes 75 van 1997 (die WBDV) en die Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995 (die WAV) is egter slegs op werknemers van toepassing. Dit is daarom belangrik om te weet wanneer iemand as ’n werknemer beskou word.

Artikel 213 van die WAV definieer ’n werknemer soos volg:

(a)   iemand, behalwe ’n onafhanklike kontrakteur, wat vir iemand anders of die Staat werk en wat besoldiging ontvang of geregtig is om besoldiging te ontvang; en

(b)   iemand anders wat op enige wyse help om die besigheid van ’n werkgewer voort te sit of te bedryf.

Sowel Artikel 83A van die WBDV as Artikel 200A van die WAV bepaal dat, indien een of meer van die volgende faktore aanwesig is, die betrokke persoon vermoedelik ’n werknemer is:

  1. Die persoon werk onder die beheer en toesig van ’n ander persoon.
  2. Die persoon se werksure is onder die beheer en toesig van ’n ander persoon.
  3. Die persoon maak ’n deel van die ander persoon se organisasie uit.
  4. Die persoon het in die voorafgaande drie maande gemiddeld 40 uur per maand vir die ander persoon gewerk.
  5. Die persoon is ekonomies afhanklik van die ander persoon.
  6. Die persoon het werkstoerusting (byvoorbeeld ’n kantoor, rekenaar of motor) van ’n ander persoon ontvang.
  7. Die persoon werk slegs vir die een persoon.

Hierdie toets is van toepassing ongeag die tipe kontrak wat gesluit is. Dit geld egter slegs vir persone wat minder as R205 433,30 per jaar verdien.

Ingevolge die WBDV is huiswerkers werknemers wat huiswerk verrig in die huis van hul werkgewer en sluit dus in huishulpe, tuinwerkers, persone wat as bestuurders van motorvoertuie by huishouding in diens is en persone wat kinders, bejaardes, siekes, verswaktes of gestremdes versorg.

Wanneer moet ek my huishulp vir werkloosheidsversekering registreer?

Die Wet op Werkloosheidsversekering 63 van 2001 is van toepassing op alle werkgewers en werknemers. Die WOWV sluit egter die volgende gevalle uit vir die betaling van werkloosheidsversekering (WV):

  1. werknemers wat minder as 24 uur per maand vir ’n werkgewer werk;
  2. leerders onder leerlingskap soos omskryf in die Wet op Vaardigheidsontwikkeling 97 van 1998;
  3. staatsamptenare; en
  4. buitelanders wat op kontrakgrondslag werk.

Huishulpe en hul werkgewers is sedert 1 April 2003 by die WOWV ingesluit. Indien jou huishulp meer as 24 uur ’n maand vir jou werk, moet hulle vir WV geregistreer wees.

Hoeveel moet ek my huishulp betaal?

Thulas Nxesi, die Minister van Arbeid, het op 17 Februarie 2020 ’n kennisgewing uitgereik oor ’n verhoging van die nuwe minimumloon. Vanaf 1 Maart 2020 moet huishulpe dus minstens R15,57 per uur verdien. Die enigste uitsondering is vir huishulpe in groot stede wat 27 uur per week of minder werk: Die minimumtarief is in dié gevalle R16,03 per uur.

Moet ek en my huishulp ’n dienskontrak sluit?

Daar is geen algemene vereiste dat ’n werkgewer en ’n werknemer ’n formele dienskontrak moet hê wat alle aspekte van die diensverhouding reguleer nie. Artikel 29 van die WBDV vereis egter dat ’n werkgewer met die aanvang van diens die volgende besonderhede op skrif aan ’n werknemer moet verskaf (dis egter slegs van toepassing indien ’n werknemer vir meer as 24 uur per maand vir ’n werkgewer werk):

  1. Die volle naam en adres van die werkgewer;
  2. Die naam en postitel van die werknemer, of ’n kort beskrywing van die werk waarvoor die werknemer aangestel is;
  3. Die plek van werk (’n duidelike aanduiding daarvan indien die werkgewer op verskeie plekke moet werk);
  4. Die datum van indiensname;
  5. Die normale werksure en dae waarop gewerk word;
  6. Die betaling, of die uurlikse fooi en metode van berekening daarvan;
  7. Die betalingskoers vir oortydwerk;
  8. Enige ander kontantbetalings waarop die werknemer geregtig is;
  9. Enige goedere of dienste ontvang in ruil vir werk gelewer, asook die waarde daarvan;
  10. Die intervalle van betalings;
  11. Enige aftrekkings van die betaling;
  12. Die verlof waarop die werknemer geregtig is; en
  13. Die vereiste kennistydperk vir diensbeïndiging, of die datum van terminering van die diensverhouding.

Kontak ons gerus vir verdere bystand in die verband.

Deel die artikel