Hoofpunte uit die aankondiging van die verslapping van inperking vanaf 1 Junie 2020 deur Pres. Cyril Ramaphosa op 24 Mei 2020

In sy toespraak vanaand, 24 Mei 2020, het president Cyril Ramaphosa aangekondig dat die hele land se COVID-19-inperkingsvlak vanaf 1 Junie 2020 van 4 na 3 sal beweeg. Enkele plekke, veral die meeste stedelike areas, bly brandpunte en die nakoming van regulasies sal hier besonder versigtig gemoniteer word.

Vlak 3 behels onder meer:

  • Sterk drank mag verkoop word, onderhewig aan regulasies wat nog aangekondig sal word;
  • Tabakprodukte mag steeds nie verkoop word nie;
  • Mense mag op hulle eie oefen wanneer hulle wil;
  • Geen openbare byeenkomste, konferensies, vermaakgeleenthede, sportbyeenkomste of kulturele byeenkomste mag plaasvind nie en fasiliteite daarvoor mag nie heropen nie;
  • Hervatting van godsdienstige aktiwiteite word ondersoek, maar is steeds verbode;
  • Mense in die hoogste risikogroepe word vermaan om so ver as moontlik tuis te bly;
  • Handel, konstruksie, e-handel en vele ander bedrywe kan hulle werksaamhede voortsit – almal wat reeds werksaamhede hervat het, mag vanselfsprekend oop bly en meer sektore kom by;
  • Mense in die voedselbedryf mag nog nie byvoorbeeld restaurante heropen nie, maar mag aanhou kos aflewer;
  • Plaaslike vlugte mag vir besigheidsredes hervat word, maar daar moet nog aangekondig word hoe dit gereguleer sal word;
  • Bedrywe waar direk met mense gewerk word, byvoorbeeld haar- en skoonheidsalonne, bly helaas steeds toe;
  • Mense moet soos tans aanhou maskers dra;
  • Skole heropen op 1 Junie 2020 vir Graad 7 en 12 soos aangekondig, maar ouers wat nie kinders wil terugstuur skool toe nie, se wense word gerespekteer;
  • Kampusse vir verdere onderrig mag heropen, maar nie met meer as ’n derde van die studente nie en meer inligting hieroor sal ook volg.

AfriForum Netwerk sal die nuwe regulasies wat vanaf 1 Junie 2020 in werking sal tree, sodra moontlik hier beskikbaar maak.

Die volgende skyfie illustreer die bepalings van vlak drie en vier.

 width=