Hoe om jou handelsmerk te bou

Volgens Jeff Bezos, die stigter van Amazon, is jou handelsmerk “dit wat mense van jou besigheid sê wanneer jy nie in die vertrek is nie”. Dus is jou handelsmerk gelyk aan jou besigheid se reputasie. Soos in enige industrie neem dit soms jare om ’n goeie reputasie op te bou en dit is juis daarom belangrik om van dag een af jou besigheid se handelsmerk te groei. Hier is ’n paar tegnieke wat jou sal help om jou besigheid se handelsmerk te vind en te bou vir die toekoms.

1.) Doen ’n waardetoets

Jou handelsmerk is veel meer as bloot net die besigheid se logo – dit is eerder die boodskap wat jou besigheid na die mark toe uitdra. Die eerste stap is om te bepaal waarvoor jou handelsmerk staan. Fokus jou maatskappy baie op die buitelewe? Indien wel is dit belangrik om seker te maak dat dit op al jou platforms soos jou webtuiste en sosialemediaplatforms gekommunikeer word. Baie besigheidseienaars baat daarby om hulle besigheid in drie beskrywende woorde op te som wat die totaliteit van die besigheid beskryf. As jou drie woorde byvoorbeeld avontuur, natuur en styl is, is dit uiters belangrik dat al jou platforms daardie beskrywing versinnebeeld.

2) Staan uit

Wanneer jy oortuig is dat jou waardes in al jou kommunikasie, bemarking en platforms versinnebeeld word, is dit belangrik om te begin uitstaan. In die topverkoperboek Purple Cow: Transform your business by being remarkable skryf Seth Godin “die wêreld is vol vervelige dinge – soos bruin koeie – waaraan niemand aandag gee nie”. Die uitdaging is om nie ’n handelsmerk te groei wat ’n “bruin koei” is nie. Goeie handelsmerkbemarking is wanneer jou besigheid uitstaan teenoor die kompetisie – volgens Godin moet jy ’n pers koei wees in ’n trop bruin koeie. ’n Sterk handelsmerk is altyd gekoppel aan die oordrywende vorm van beskrywing; jy wil die besigheid wees met die béste kliëntediens of die gróótste databasis. Dit help nie om bloot goeie kliëntediens of ’n gemiddelde grootte databasis te hê nie. Dit waarop jou besigheid gaan fokus gaan natuurlik afhang van die industrie.

3) Handhaaf ’n hoë standaard

So moeilik soos dit is om ’n goeie reputasie te bou, kan dit in ’n oomblik vernietig word deur ’n slegte resensie of ’n verlaging in die standaard van jou kommunikasie. Die belangrikste faset van jou handelsmerk is om ’n konstante standaard te handhaaf. Maak seker alle kommunikasie en diens word op dieselfde standaard gelewer. So ook is dit belangrik om ’n hoë visuele standaard te hou met betrekking tot jou aanlyn teenwoordigheid. Maak seker jou foto’s is altyd van topgehalte. Swak webfoto’s skep ’n slegte indruk van jou besigheid en word geassosieer met slegte diens. Net so beïnvloed jou verpakking jou handelsmerk. Dit help niks as jou produk uitstekend is, maar die verpakking lyk afgeleef nie. Let daarop dat die kernwaardes van jou handelsmerk in alle fasette van jou besigheid uitblink.

4) Bou lojaliteit

Die grootste bepalende faktor of jou handelsmerk gaan slaag of nie is hoe effektief jy is in die bou van ’n lojale volgelingbasis. Indien jou diens van ’n hoë standaard is en jou handelsmerk bo die kompetisie uitstaan, is dit belangrik om bestaande kliënte in die lang termyn te behou. Hierdie beginsel werk soortgelyk aan verhoudings tussen mense; dit is sowel ’n gee- as neem-verhouding. Vir kliënte om in die lang termyn lojaal aan jou handelsmerk te bly moet hulle ook voel dat hulle iets gratis terugkry. Dit hoef nie noodwendig iets tasbaar te wees nie; dit kan selfs inhoud soos bloginskrywings wees. Op sosiale media is dit byvoorbeeld gehaltefoto’s en -inhoud wat nie altyd iets aan die kliënt probeer verkoop nie, maar eerder interaktief is. Dit help ook om soms volgelinge te beloon met byvoorbeeld afslagkoepons of lukrake kompetisies.

Dit is belangrik om altyd die einddoel van jou besigheid voor oë te hou. Onthou – alle besighede het ’n handelsmerk, of hulle dit nou besef of nie. Om jou handelsmerk te bestuur is een van die belangrikste rolle van ’n besigheidseienaar, aangesien niemand anders die rede vir die besigheid se bestaan so goed soos jy gaan verstaan nie. Maak seker daardie rede skemer deur in al jou kommunikasie en kontak met jou kliënte. Dan is jy op die regte spoor om jou handelsmerk te bou!