Entrepreneursfokus: Johannita Eksteen – Funky Ouma

Funky Ouma is ’n reeks moderne, natuurlike braai- en kooksoute wat gebruik maak van vars bestanddele in unieke kombinasies om enige maaltyd op te kikker. Johannita Eksteen en haar ma se oogmerk met die reeks was om te verseker dat die verbruiker ’n goeie kombinasie van kruie en speserye in een houer kry eerder as om verskeie botteltjies op te gaar. Die idee vir die oulike spesery-gegeurde soute kom eintlik al ’n lang pad, hoewel op kleiner skaal. Johannita se ma het so lank as wat sy kan onthou haar eie resep vir ’n kruie-en-sout-mengsel gehad wat met suurlemoenskil gemeng is. Dié sout is in geregte en as tafelsout gebruik en vriende en familie was gaande daaroor. Min wetend was dit die begin van ’n hele handelsmerk wat al jare aan die kom was.

In 2012 was dit ’n keerpunt vir die ma-en-dogter-span. Johannita het pas haar werk bedank om aan ’n webtuistekonsep van haar eie te begin werk en haar ma was finansieel in die knyp. Die twee het aanvanklik met soutmengsels begin eksperimenteer met die idee dat dit moontlik ’n ekstra inkomste kan skep. Skertsend het hul opgemerk dat Johannita se ma “Funky” is en ook ’n “Ouma” van 10 kleinkinders is – en vandaar is die handelsnaam “Funky Ouma” gebore. Aanvanklik was Johannita se plan bloot om haar ma by te staan met die begin van die besigheid en later met haar eie projek aan te gaan, maar die aanvraag na die heerlike soute het vinnig toegeneem en sy het besluit om eerder haar tyd en energie aan Funky Ouma te wy.

Agt jaar later is Funky Ouma ’n bekende handelsmerk met ’n wye reeks produkte. Een van hul groot treffers is hul blikkies sout wat geïnspireer is deur die blikkies wat op baie van ons oumas se kombuiskaste gestaan het toe ons grootgeword het. Die blikkies is bietjie gemoderniseer en het die “funky”-karakter van die handelsmerk. Onlangs het hul ook begin om die heerlike soutmengsels te begin uitvoer. Na 12 maande se harde werk verloop die uitvoerproses uiteindelik glad en het Funky Ouma getroue kliënte in lande soos Dubai, Nederland, Duitsland, Namibië, Botswana en Australië. Die span se plan is om die onderneming nog verder uit te brei en uiteindelik die nommer een braaisout in Suid-Afrika te wees.

Johannita stel voor dat enige iemand wat daaraan dink om hul eie onderneming te begin, seker moet maak dat hul produk of diens in aanvraag is. Haar tweede wenk is dat mens ekstra moeite moet doen met jou kliëntediens en moet fokus op jou teikenmark om jou onderneming ’n sukses te maak. Vir Johannita en haar ma was die fokus om iets te groei wat hul albei en ander kan help om ’n bestaan te maak. Die droom het ontwikkel, eers in ’n wonderlike produk, en later in ’n trefferhandelsmerk.

 

Foto krediete: Liza van Deventer vir Fair Lady (lizavandeventer.co.za) – hooffoto. Lindy Kriek (lindykriek.co.za) – produkte.