Entrepreneursfokus: Jacques de Klerk – Heeltyd speeltyd met Inheems

Jacques de Klerk het nog altyd ’n liefde gehad vir materiaal wat nie net mooi is nie, maar ook mooi voel. In die negentigs het Jacques reeds sy eie tekstielonderneming gehad, maar Inheems het eers in 2019 die lig gesien.

Inheems, as ’n onderneming, vloei uit Jacques se passie vir kunsfotografie en sy agtergrond in grafiese ontwerp. Inspirasie kom uit alle oorde maar dit is veral, soos die naam voorstel, Suid-Afrika wat Jacques inspireer wanneer dit kom by Inheems en hy sal dit graag so wil hou – om trots Suid-Afrikaans te wees, is vir hom ’n prioriteit en hy voeg by dat proteas ’n topverkoper is en bly.

Sy vrou, Inge, het met die naam vorendag gekom na hul vir lank oor verskeie opsies gedink het. Inheems het dadelik reg gevoel en die volgende stap was om seker te maak dat daar nie reeds ’n onderneming met dieselfde naam is nie.

Jacques meen dat die gunstelingdeel van sy eie onderneming besit die vryheid is om te doen waarvoor hy lief is. “Ek leef my passie uit en dit voel nie soos werk nie – eerder heeltyd speeltyd,” voeg hy by.

Daar is egter ook minder aangename oomblikke, soos wanneer iemand werklik van Inheems se produkte hou maar dit nie altyd kan koop nie. Aan die ander kant is daar ook diegene wat hierdie unieke ontwerpe vergelyk met materiaal wat mens sommer in enige winkel kan koop.

As hy een ding anders kon doen, sou dit gewees het om vroeër met tekstielontwerp te begin, maar hy glo ook dat dinge gebeur soos wat dit moet. ’n Mens leer daagliks iets nuut en so pas hy ook aan en leer om dinge beter te doen. Moet ook nooit sê “nooit” nie, want om by markte uit te stal, is iets wat Jacques nooit gedink het hy sou doen nie.

Leer by ander; dit beteken nie jy hoef iets te doen soos hul dit doen dit nie, maar jy kan altyd iets leer. “Jy is uniek in wie jy is so doen iets ook op jou eie manier.”

Hierdie tyd waarin ons nou leef, is uitdagend maar ons moet die beste daarvan maak en leer hoe om in hierdie weergawe van normaal ons bes te gee.

Jacques se raad aan jong en opkomende entrepreneurs is om te doen wat jy wil doen en nie dat iemand in jou pad staan nie. Alles werk nie die eerste keer uit soos jy beplan nie, maar jy sal nie weet as jy nie probeer het nie.

Plaas ’n bestelling hier: info@inheems.co.za