Entrepreneursfokus: Gerhard de Jager en Philip van Niekerk – Dors

Dors se water doen presies wat dit op die etiket sê – dit les jou dors! En dit boonop in PET BPA-vrye plastiekbottels wat beskikbaar is in ’n wye verskeidenheid volumes – van 330 ml- tot 5 liter-bottels. Die unieke handelsmerk is ’n trots Afrikaanse familiehandelsmerk wat om spanwerk gesentreer is. Die eienaars, Gerhard de Jager en Philip van Niekerk, het sowat twee jaar gelede met die konsep vorendag gekom omdat een van Gerhard se seuns aanhou sê het dat hy “dors” is. Philip en Gerhard het toe skertsend vir mekaar gesê dat hulle ’n water met dié naam moet vervaardig. Twee jaar later is dit ’n gevestigde handelsmerk.

Dors het mettertyd hul produkreeks uitgebrei en sluit nou buiten water ook ’n sportdrankie en ander handelsware in wat op hul webtuiste te koop aangebied word. Hulle planne vir die toekoms is ook ambisieus. Dors is tans besig om met nuwe verpakking te eksperimenteer en gaan binnekort sowel hulle stil- as vonkelwater in 500 ml-blikkies bekendstel. Dors is ook besig met @dors Plus wat ’n reeks nuwe energiedrankies, koffie, vitamiendrankies en proteïenstafies insluit. Dors se droom is om selfs nog verder uit te brei en die dors van persone ouer as 18 óók te les deur die vervaardiging van ’n Dors-brandewyn, ’n Dors-jenewer, ’n Dors-lager en selfs Dors-ys om alles mee af te sluk. Dors is ook ’n gereelde borg van geleenthede en maak ook etikette met individuele logo’s vir hulle kliënte.

Volgens Gerhard is een van die grootste inspirasies vir sy persoonlike entrepreneursreis Albé Geldenhuys, die stigter van USN (Ultimate Sports Nutrition), wat as voorbeeld dien van ’n normale mens wat sy idee in ’n groot maatskappy omskep het. Op internasionale vlak is sir Richard Branson ’n groot inspirasie. Albei hierdie entrepreneurs het volgens Gerhard uit hulle foute geleer en deur volharding hul ondernemings gebou. ’n Sinsnede waaraan Gerhard vashou is dié van Geldenhuys wat lui: “I’ve learned it’s important to start small, see what works, learn from your mistakes and then plan accordingly.”

Gerhard beveel ook Branson se boek Screw it, Let’s do it vir aspirerende entrepreneurs aan, asook @garyvee se Instagram-profiel wat reguit en eerlike advies gee in ’n tyd wanneer ’n mens letterlik oorval is met verskeie besigheidsidees.

Gaan loer gerus na Dors se webtuiste vir al hulle toekomstige uitbreidings by www.dorswater.co.za.