Entrepreneursfokus: Katu Vellies – Van universiteitstaak tot florerende besigheid

As ‘n modetydskrif ‘n uitrusting bymekaar moet sit vir amper enige Afrikaanssprekende man of vrou kan jy maar weet dat daar ‘n paar vellies gaan wees om die uitrusting te voltooi. Vellies is so te sê tradisionele drag vir die Afrikaner en jy hoef nie verder as Katu Vellies te soek om ‘n hoë kwaliteit paar te kry wat jy vir jare sal kan dra nie.

Die idee vir Katu Vellies het in 2015 as ‘n meestersgraadtaak vorm aangeneem toe die stigter, sy meestersgraad aan die University of Otago in Nieu-Seeland voltooi het. Die studente moes ‘n tradisionele produk van hulle eie land gebruik het as onderwerp en natuurlik het hy besluit op vellies. Die één kledingstuk wat amper almal in hulle kas het.

By Katu Vellies koop jy waarde vir jou geld aangesien hulle slegs gebruik maak van die beste volgrein leer – met ander woorde, van dié dikste leer beskikbaar – om te verseker dat jy jou vellies en ander leerprodukte vir so lank as moontlik kan geniet sonder dat die leer seerkry. Die fabriek waar Katu Vellies en hul ander leerprodukte vervaardig word bestaan al sedert 1834 en meeste van die werk word met die hand vervaardig. Katu Vellies se produkte is eg Afrikaanse produkte wat deur Afrikaanse mense grotendeels vir die Afrikaanse mark vervaardig word.

Wanneer jy vir Ben vra wat sy droom vir Katu Vellies is dan sal hy antwoord dat Katu Vellies ‘n produk is wat aan elke plaasboer, rugbyspan, bruidegom, bruid en boervrou se voete behoort te sit. Is vellies dan nie die oorspronklike dans, kerk en werk (DKW) skoene nie? Oud en jonk, stad of plaas, man of vrou – vellies is vir elke persoon. Daar is ‘n lys bekendes wat spog met ‘n paar Katu Vellies in hul kas, Bobby van Jaarsveld, Toast Coetzer, Breyten Paulse, Kwagga Smith en Theodore Jantjies om net ‘n paar te noem. Dalk is Katu Vellies volgende aan die voete van prinse?

As jy jou eie paar Katu Vellies vellies wil hê of dalk een van hulle ander leerprodukte kan jy alles op hulle aanlynwinkel te koop kry. Op die vraag, wat is volgende, is die antwoord dat hulle graag in die toekoms ‘n fisiese winkel in Pretoria wil open waar die publiek hul produkte kan voel en ook kan aanpas as hulle sou wou. Katu Vellies het groot planne en ons kan nie wag om te sien wat hierdie handelsmerk volgende gaan doen nie!