Dít is hoekom multitaakverrigting nie doeltreffend is nie.

Jy ken die volgende scenario teen dié tyd waarskynlik alte goed:

Jy stap op ’n Maandagoggend by die kantoor in, steeds effe oorbluf deur die wrede skok dat die naweek daarmee heen is en jy weer holderstebolder in die grootmenswêreld gegooi is tot vyfuur Vrydagmiddag. Die feit dat jy ’n uur lank in spitsverkeer vasgesit het – en sommer twee belangrike oproepe op luidspreker gevoer het terwyl jy aan jou wegneemkoffie gesluk het – maak dinge nie makliker nie. In die hysbak het jy sommer reeds e-posse begin beantwoord en afsprake vasgemaak vir die week.

Die res van die dag is ’n warrelwind. Jy sit deur aanhoudende vergaderings tot middagete en tik sommer op jou skootrekenaar terwyl jy probeer oplet wat gesê word, want werk moet daar gewerk word. Jy bestel middagete op jou selfoon-toep en probeer tussen happe om daai belangrike verslag te voltooi. Daar is nog tien ander dinge om te doen, en jy moet jou kollegas bystaan met raad vir ’n voorlegging en ’n ogie hou oor daai outjie wat ’n internskap doen.

Wanneer jy jou weer kom kry is dit halfagt, en jy kon nie die helfte van die goed klaarkry wat jy wou doen nie. En boonop voel jy uitgeput.

Multitaakverrigting is nie doeltreffend nie. Lees verder om meer uit te vind.

Jy kan nie ordentlik fokus nie

In vandag se wêreld word mens gedurig gekonfronteer deur afleidings – sosiale media, e-posse, teksboodskappe, selfoonoproepe. Die gevolg is dan dat:

1) mense (dis nou jy) vandag baie meer aandagafleibaar is as wat hulle ’n paar jaar gelede was, en
2) mens gereeld rondspring tussen take.

Dis nie beslis nie ’n wenresep om jou aandag so goed moontlik by jou werk te bepaal nie.

Jy begaan foute, wat tot slegte werk lei

Omdat jy met meer as een ding op ’n slag besig is, is jou gedagtes die meeste van die tyd by een ding terwyl jy met ’n ander ding besig is. Omdat jy nie behoorlik aandag skenk aan dit waarmee jy besig is nie, begaan jy onnodige foute weens nalatigheid.

Take neem langer as wat dit moet

Dis beter om een ding op ’n slag klaar te maak sodat jy na die volgende een kan aanbeweeg. Met multitaakverrigting is ander take besig om jou aandag af te lei – selfs wanneer jy nie noodwendig daarmee besig is nie.

Die gevolg is dat selfs die eenvoudigste taak tien maal langer neem as wat dit moet, en so begin die bose kringloop van vordering wat vertraag word.

Dit veroorsaak stres

Omdat jy voel dat jy niks afgehandel kry of ordentlik doen nie, raak jy gespanne en angstig – en gevolglik werk jy selfs nog stadiger omdat jy oorweldig voel. Die onnodige stres kan daartoe lei dat jy nie op jou beste optree in die werkplek nie, wat skade kan berokken aan verhoudings met jou kollegas en – natuurlik – jou werk.

So, hoe gemaak? 

Die ironie is natuurlik dat hoewel intensiewe multitaakverrigting nie goed is nie, daar soms tye gaan wees wanneer jy meer as een ding gelyk moet doen. Dis daarom in jou belang om te prioritiseer.

Wanneer jy klaar is met die dag, maak solank ’n lys van wat jou die volgende dag te doen staan, en sorteer die lys in orde van belangrikheid – meeste na minste. Wanneer jy die volgende oggend by die kantoor kom, beantwoord eers jou e-posse en handel al jou administratiewe take vir die dag af en begin dan met jou take. Moenie jou aandag aan ander dinge skenk tydens vergaderings nie, en neem ’n blaaskans om jou gedagtes agtermekaar te kry – geen e-posse terwyl jy middagete eet nie!

Ons breine is baie kreatief en dis daarom goed om in jou agterkop ’n idee te hê van waarmee jy jou volgende moet bemoei. Dis hoekom mens baie keer met doeltreffende oplossings vir dilemmas vorendag kom wanneer jy nie daarop fokus nie maar dit eerder in jou agterkop hou.