Die krag van pessimisme: Wat is die ergste wat kan gebeur?

Many false steps were made by standing still” – Fortune cookie

Action may not always bring happiness, but there is no happiness without action” – Benjamin Disreali, voormalige Eersteminister van Brittanje.

Daar word altyd gesê dat dit nodig is om in alle situasies positief te bly, maar soms is dit juis beter om eerder pessimisties na die toekoms te kyk. Dit is goed om die ergste moontlike scenario te oorweeg. Daar is krag in pessimisme. Onsekerheid en die moontlikheid van mislukking is gevaarlike stemme in die skadu’s van ons gedagtes en kan ons verhoed om moeilke besluite te neem. Daarom dat meeste mense sal kies om ongelukkig te wees eerder as om onseker te wees.

Waarom konfronteer jy nie jou ergste nagmerrie nie? Indien jy dit sou doen kan dit jou toelaat om vir daardie scenario voor te berei, beide emosioneel en fisies. As jy oor twee maande nie meer jou besigheid se deure kan oopmaak en jou werknemers kan betaal nie, wat dan? Gaan jy werk soek, ’n ander besigheid begin, geld leen by familie en jou lewenskostes halfeer? Dit is kragtig om die ergste moontlikheid te definieer. Dit verwyder vrees en inspireer aksie. Dit laat jou dikwels besef dat jy jou nagmerrie sal oorleef en jy kan berus by die wete dat die ergste scenario nie noodwendig gaan plaasvind nie, maar dat jy voorbereid is daarvoor.

Tim Ferriss is een van Fast Company se mees innoverende besigheidspersoonlikhede en is ’n vroeë belegger in Facebook, Uber en Alibaba. Hy meen dat in ’n proses van vrees-definiering jy die aakligste gevolge van die besluit waarvoor jy te staan kom, laat uitspeel. Wat is die ergste wat kan gebeur as jy nou al jou werknemers aflê? Of wat is die ergste wat kan gebeur as jy geen besluit neem nie? Jy kan dan die nagmerrie scenario vergelyk met wat die beste uitkoms is en weet of die risiko die moeite werd is.

6 Stappe vir die vrees-oefening

Toetsvrae waarmee jy die oefening kan doen is byvoorbeeld:

  • Moet ek bedank om ’n besigheid te begin?
  • Moet ek vir drie maande op vakansie gaan?
  • Moet ek nou werknemers afdank wat ek nie kan bekostig nie?
  1. Definieer jou nagmerrie, wat is die absolute ergste moontlikheid indien jy die besluit neem wat jy oorweeg? Sal dit die einde wees van jou lewe? Hoe permanent sal die ergste uitkoms wees op ’n vlak van 1 tot 10?
  2. Watter stappe sal jy volg om die skade te herstel wat jy in vraag een genoem het? Daar is ’n goeie kans dat dit makliker sal wees as wat jy gedink het.
  3. Wat is die uitkoms of voordele, tydelik en permanent, van meer realistiese scenarios? Noudat jy die nagmerrie geïdentifiseer het, skryf neer wat die impak gaan wees van ‘n meer realistiese uitkoms indien jy die besluit neem.
  4. Wat stel jy uit as gevolg van vrees? Ons vrees dikwels presies dit wat ons die meeste nodig het om te doen. Daar word gesê dat ’n persoon se sukses gemeet kan word aan die aantal ongemaklike gesprekke wat hulle bereid is om te hê.
  5. Wat sal dit jou kos as jy jou besluit uitstel, in finansiele, emosionele en fisiese terme? Jy moet die koste van geen keuse, ook oorweeg. As jy nie ’n besluit maak nie, wat is die effek daarvan oor een, vyf of tien jaar?
  6. Waarvoor wag jy? Wag jy vir ander mense om die besluit vir jou te neem of het jy verskonings wat jy aan jouself maak? Verskonings soos “jy wag vir die regte tyd”. Wees eerlik oor die verskonings wat jy maak sodat jy nie besluite hoef te neem nie.

Die Romeinse filosoof Seneca het voorgestel mense moet ’n aantal dae in ’n jaar gebruik waar hulle leer om gemaklik te raak met hulle grootste vrese. As jy ’n vrees het om jou inkomste te verloor, leef vir twee weke net op brood en boontjies en vra jouself dan die vraag: “Is hierdie die toestand wat ek gevrees het?”. Die beginsel is belangrik, hoe gemakliker ons raak met die situasies wat ons vrees, hoe meer vreesloos kan ons besluite maak.

Mark Twain het gesê dat hy in sy lang lewe baie moeilik probleme leer ken het, maar meeste van hulle het nooit gebeur nie. Ons vrees vir scenarios wat dalk nooit gaan realiseer nie, maar is dit nie bemagtigend om ’n risiko te kan neem met die wete dat jy enige uitkoms kan oorleef nie?