Besigheidsklankboeke om in jou motor te luister

’n Entrepreneur se daaglikse lewe is soms deurmekaar en maak dit baie moeilik om op datum te bly met leeswerk. Tog bly die vermoë om inligting in te neem en op jou besigheid toe te pas die sleutel tot sukses. In antwoord op ’n vraag oor wat hom so suksesvol gemaak het, het Warren Buffet na ’n stapel boeke gewys en gesê: “Lees elke dag 500 bladsye. Dit is hoe kennis werk. Dit bou op soos saamgestelde rente. Almal kan dit doen, maar ek waarborg jou min sal.” 500 bladsye is dalk ’n bietjie baie, maar die kernwaarheid van wat Buffet sê staan vas: Hoe meer jy lees, hoe meer suksesvol is jy. Ander bekendes wat baie lees, is:

Bill Gates – sowat 50 boeke per jaar

Mark Cuban – sowat drie uur per dag

Mark Zuckerberg – hy het in 2015 elke twee weke ’n boek klaar gelees

Indien jy dit nie regkry om so baie soos Warren Buffet te lees nie, is daar tog hoop. Klankboeke maak dit makliker om dieselfde inligting in ’n ander formaat in te neem. Voortaan hoef die langpad en jou ritte werk toe nie bloot dooie tyd te wees nie; jy kan die tyd gebruik om die kern van belangrike boeke in te neem. Hier is vyf van die beste besigheidsboeke waarna jy kan luister:

  • Think and Grow Rich deur Napoleon Hill

Lengte: 9 uur 35 minute

Die boek is reeds in 1937 geskryf en word deur baie besigheidsmense beskryf as een van die topbesigheidsboeke in die geskiedenis. Hill het van die beste besigheidsmense van sy generasie bestudeer vir die boek, onder wie drie Amerikaanse presidente. Hy het meer as 40 miljoenêrs bestudeer en bepaal wat dit is wat hulle so suksesvol gemaak het.

  • Good to Great deur Jim Collins

Lengte: 10 uur 4 minute

Hierdie boek is die resultaat van vyf jaar se navorsing oor hoe goeie besighede groei en verbeter. Collins bespreek ook die redes waarom gemiddelde besighede nie juis groei nie. Hy het die laaste 30 jaar se bedrywighede van 28 maatskappye bestudeer om te bepaal watter faktore sukses werklik beïnvloed.

  • The 80/20 Principle deur Richard Koch

Lengte: 12 uur 12 minute

Volgens die 80/20-reël bepaal 20% van alles wat ’n mens doen – van werk tot verhoudings – 80% van die positiewe resultate wat jy behaal (soos geluk, verkope en sukses). Die 80/20-reël word ook die Pareto-beginsel genoem. Koch bestudeer dié beginsel en help die leser om te bepaal watter klein takies in die lewe die grootste impak het op hulle sukses of geluk.

  • Getting to Yes deur Roger Fisher en William Ury

Lengte: 6 uur 30 minute

Dié boek is ook redelik oud; dit is reeds in1981 gepubliseer. Die skrywers beskryf die vier kernfasette van effektiewe onderhandeling: om die mens van die probleem te skei; om te fokus op belang eerder as posisie; om ’n verskeidenheid opsies te bekyk voordat ’n ooreenkoms aangegaan word; en om daarop aan te dring dat die ooreenkoms aangegaan word op grond van objektiewe kriteria.

  • The Intelligent Investor deur Benjamin Graham

Lengte: 17 uur 48 minute

Hierdie boek is aan te bevele vir enigiemand wat in beleggings belangstel. The Intelligent Investor is reeds in 1949 gepubliseer maar word vandag steeds gebruik as ’n basis vir goeie beleggings. Volgens Graham analiseer goeie beleggers ’n besigheid se langtermyngroei en bestuur voordat hulle daarin belê. Hulle diversifiseer ook altyd om verliese te voorkom. Graham beskou ’n intelligente belegger een wat eerder op langtermyngroei fokus as op vinnige wins.