Blitsgids: Kry Facebook-advertensies só onder die knie

Is jy ’n entrepreneur wat gewapen is met jou eie webtuiste en Facebook-blad, maar kry nie die verkope waarvoor jy gehoop het nie? Jy het dalk jou webtuiste self aanmekaar geslaan met Shopify of Wix en reeds by Mailchimp opgeteken om gratis nuusbriewe uit te stuur. Dan sou jy seker ook begin het om plasings op jou Facebook-blad te maak met die hoop dat jou volgelinge in hulle massas op jou webtuiste toesak. Die volgende stap is om Facebook-advertensies te bemeester. Neem die eerste tree in die regte rigting en gaan na Facebook se advertensieplatform, Facebook Ad Manager, deur op dié skakel te kliek (www.facebook.com/ads/manager). Volg dan die volgende 5 stappe om jou verkope die hoogte te laat inskiet!

Stap1: Begin ’n veldtog

As jy die skakel volg sal jy sien dat jy ’n advertensieveldtog kan begin onder die “Create Campaign” opskrif. Besluit wat die doel is van jou veldtog. Wil jy jou gehoor bewus maak van jou handelsmerk? Of dalk hulle belangstelling prikkel deur jou volgelinge na jou webtuiste te lok of vir jou nuusbrief in te teken? Of jy kan sommer dadelik oor die tou trap en jou volgelinge direk vra om jou produk of diens te koop. Hou ingedagte dat jy met Facebook ’n gee-eers-voor-jy-neem strategie moet volg. Voeg eers waarde by tot jou volgelinge voordat jy iets terug verwag.

Stap 2: Kies jou teikenmark

Die volgende stap in die proses is om jou teikenmark te kies. Facebook het onlangs drastiese verbeterings aangebring en jy kan nou selfs jou mark teiken op grond van wie al jou webtuiste besoek het, wie jou nuusbriewe lees of wie in die mark is vir ’n produk wat jy verkoop. Om hierdie meer gevorderde teikenmarkte op te stel, Google gerus hoe om ’n Facebook Pixel op jou webtuiste te installeer.

Vir eers kan jy fokus om die belangstellings van jou ideale teikenmark te lys. Dink aan watter groepe jou teikenmark sal behoort, in watter area hulle woon of selfs watter musiek hulle luister. Verder kan jy ook hulle ouderdom, taal, geslag of selfs inkomstegroep aandui. Jy het ook die opsie om sekere teikenmarkte pertinent uit te sluit. Sodra jy jou teikenmark gekies en jou begroting ingestel het, is jy gereed om jou advertensie aanmekaar te sit!

Stap 3: Maak jou advertensie

Facebook het ook in dié afdeling verbeter. Behalwe ’n enkele foto (of 6 verskillende stilstaande foto’s) het jy ook die opsie om jou advertensie as ’n versameling van verskeie foto’s of videos te plaas. Dit beteken dat ’n voornemende kliënt deur ’n paar van jou produkte kan blaai soos op ’n skyfievertoning! Die goue reëls vir jou eerste advertensie is om:

  1. Goeie gehalte foto’s te gebruik;
  2. ’n Duidelike oproep tot aksie te hê;
  3. Jou advertensie kort en kragtig te hou;
  4. Eerlik te wees oor die beloftes wat jy oor jou produk of diens maak;
  5. ’n Goeie grafiese ontwerper of canva.com te gebruik! Om ’n grafiese ontwerper te gebruik teen sakpas pryse kan jy ook op www.fiverr.com gaan soek.

Kry dit só onder die knie 

Dieselfde goue reël geld vir Facebook, Twitter en Instagram – skep ’n verkoopstregter en doen deurentyd eksperimente. Dit beteken jy moet eers met volgelinge flikflooi en hulle belangstelling prikkel. Gee gratis items weg in ruil vir hulle kontakbesonderhede, motiveer hulle om vir jou nuusbrief in te teken of jou webtuiste te besoek voor jy hulle vra om jou produk te koop. Indien dit nie werk nie, gebruik ander bewoording, ’n ander foto of pas jou aanbieding aan. Hoe meer jy ekspermimenteer met jou boodskap, hoe vinniger gaan jy hulle vertroue wen. Sodra jou boodskap reg is en jou verkoopstregter is opgestel – trek dan die sneller en siedaar, jou volgeling is nou ’n kliënt!