Tien maklike maniere om jou onderneming van vaal na vars te neem.

Is jy ’n entrepreneur of besit jy jou eie onderneming? Sit jy bloed, sweet en trane in jou onderneming, maar voel nie of jy iets bereik nie? Dalk is hierdie raad net wat jy nodig het. Boonop gaan dit net ’n paar uur neem en is dit baie bekostigbaar.

  1. Skep vir jou onderneming ’n Facebook-blad of webtuiste (Pssst, die internet is jou vriend). As jy op ’n begroting is, kyk na basiese doen-dit-self WordPress opsies soos op www.myguru.co.za, of google dit. Doen navorsing! Baie van hierdie opsies help jou stap vir stap om jou webwerf te bou. Moenie bang wees nie. Bel en vra vir ’n kwotasie.
  2. Vergeet van Yahoo, Gmail of ’n mengsel van die twee en kry jou persoonlike, regte, egte e-posadres. Jy kan ook professioneel lyk. En dit is nie eers duur nie. Sommige e-posse kos slegs R9 per maand, ander is ingesluit by die basiese opsie wanneer jy ’n webwerf by ’n kundige ontwikkel en huur, soos genoem by die eerste punt.
  3. Onthou, hoe jou onderneming lyk is jou grootste advertensie. As jy blomme verkoop, moet die blomme ten minste vars wees. As jy ’n grafiese ontwerper is, ontwerp ’n handelsmerk. Wys jou liefde vir wat jy doen. Belê in ’n goeie kamera. Ns: as jy pas begin het, maak gebruik van gratis, professionele foto’s wat jy van die internet kan aflaai. Loer na unsplash.com, www.picjumbo.com of www.gratisography.com. Moenie dat ’n foto ooit piekselleer nie.
  4. Gepraat van handelsmerke – kry een! Nie ’n prentjie wat jy van die internet afgelaai het met ’n watermerk nie. Of Wordart nie! Laat ontwerp vir jou een by ’n (goeie) grafiese ontwerper. Gebruik daardie handelsmerk, op ALLES. Op jou briefhoof, in jou e-poshandtekening, op jou visitekaartjie, op Facebook as jou profielfoto, op die plakker op jou motor, pamflette of enige promosiemateriaal wat jy gebruik. Die fooi wat jy vir die grafiese ontwerper betaal is moontlik die duurste item op hierdie lysie, maar sien dit as ’n belegging. ’n Nuwe kenteken sal jou sommer nuwe inspirasie gee.
  5. Dink mooi oor die naam van jou onderneming. Dit moet professioneel wees en jou onderneming naastenby beskryf.
  6. Neem hoë kwaliteit foto’s van jou vorige werk en sit dit op jou webwerf of Facebook. As jy meer aanlyn werk, sit skakels na van jou kliënte se webadresse. Die belangrikste is om te wys wat jy gedoen het. Mense hou van voorbeelde. Belê in ’n goeie kamera of ’n goeie selfoon, ten minste.
  7. Maak seker jou spelling is goed. Geen verskonings nie. Jou naaste boekwinkel het woordeboeke of ’n aanlyn een en as jou onderneming genoeg gegroei het, stel ’n taalpraktisyn aan – moenie afskeep nie. En loop maar eerder lig vir internettaaldienste.
  8. Behou jou aanlyn teenwoordigheid. Wanneer ek na ’n diens soek, is die eerste ding wat ek doen om dit te google. Dit is fantasties as ek jou vind op Facebook, maar as ek sien jou laaste inskrywing was Desember 2015, dan wonder ek:? Het ’n trok jou raakgery? Het iemand jou ontvoer? Het jou koekies te veel bakpoeier bevat? Maak dit deel van jou daaglikse roetine om ietsie op jou Facebook of webtuiste te plaas. Dit vat regtig nie baie tyd nie en selfs al vat dit ’n rukkie aan die begin, sal jy dit maak, want jou onderneming is jou lewe, brood en botter, jou passie – jy sal alles in jou vermoë doen om bo uit te kom.
  9. Doen navorsing. Kyk wat doen soortgelyke ondernemings. Wat werk, wat werk nie. As jy sukkel, raadpleeg ’n kenner. Die meeste van die tyd is dit vir iemand ’n pluimpie as jy hulle vra vir raad.
  10. Probeer om dinge eenvoudig te hou. Nie te veel blinkertjies nie, selfs al is jou onderneming in die blinkerbedryf. Behou die balans.